Pages Menu
Facebook
Categories Menu
Psalm 90

Psalm 90

(1983)

‘n Gebed van Moses, die man van God. Here, U was vir ons ‘n toevlug van geslag tot geslag.

Voordat die berge gebore is, voordat U die wêreld voortgebring het, ja, van ewigheid tot ewigheid is U God!

U laat die mens sterwe: U sê net: “Word weer stof!”

Duisend jaar is vir U soos gister as dit verby is, soos een enkele wagbeurt in die nag.

U maak ‘n einde aan ‘n mens, hy gaan die doodslaap in. Hy is soos gras wat in die môre afgesny word:

in die môre is dit nog groen, maar dit word afgesny en teen die aand is dit verlep en dit verdroog.

Ons vergaan onder u toorn, ons gaan te gronde onder u gramskap.

U sien ons oortredinge raak, U bring die sondes wat ons wou wegsteek, aan die lig.

Onder u toorn vlieg ons dae en skiet ons jare verby soos ‘n gedagte.

Ons lewe maar sewentig jaar, of, as ons baie sterk is, tagtig, en dié is vol swaarkry en leed. Dit is gou verby, ons vlieg na ons einde toe.

Wie ken die krag van u toorn beter as u dienaars? Wie ken u gramskap beter?

Leer ons ons dae so gebruik dat ons wysheid bekom.

Hoe lank nog, Here, voordat U ons te hulp kom? Ontferm U tog oor ons.

Skenk ons elke dag u liefde in oorvloed, dat ons ons lewe lank mag juig en bly wees.

Soveel dae as dié waarin U ons verdruk het, soveel jare as dié waarin ons gely het, gee ons soveel jare van blydskap.

Laat u werk vir ons duidelik word en u grootheid vir ons kinders.

Laat ons die goedheid van die Here ons God belewe: hou die werk van ons hande in stand, ja, die werk van ons hande, hou dit in stand.

(1953)

’n GEBED van Moses, die man van God. Here, U was vir ons ’n toevlug van geslag tot geslag.

Voordat die berge gebore was en U die aarde en die wêreld voortgebring het, ja, van ewigheid tot ewigheid is U God.

U laat die mens terugkeer tot stof en sê: Keer terug, o mensekinders!

Want duisend jaar is in u oë soos die dag van gister as dit verbyskiet, en soos ’n nagwaak.

Weggespoel het U hulle; hulle word ’n slaap; in die môre is hulle soos die gras wat weer uitspruit:

in die môre bloei dit en spruit weer uit; in die aand sny ’n mens dit af, en dit verdor.

Want ons vergaan deur u toorn, en deur u grimmigheid word ons verskrik.

U stel ons ongeregtighede voor U, ons verborge sondes in die lig van u aangesig.

Want al ons dae gaan verby deur u grimmigheid, ons bring ons jare deur soos ’n gedagte.

Die dae van ons jare — daarin is sewentig jaar, of as ons baie sterk is, tagtig jaar; en die uitnemendste daarvan is moeite en verdriet; want gou gaan dit verby, en ons vlieg daarheen.

Wie ken die sterkte van u toorn en u grimmigheid, ooreenkomstig die vrees wat aan U verskuldig is?

Leer ons om ons dae so te tel dat ons ’n wyse hart mag bekom!

Keer terug, HERE! Tot hoe lank? En ontferm U oor u knegte.

Versadig ons in die môre met u goedertierenheid, sodat ons kan jubel en bly wees in al ons dae.

Maak ons bly na die dae waarin U ons verdruk het, na die jare waarin ons onheil gesien het.

Laat u werk vir u knegte sigbaar word en u heerlikheid oor hulle kinders.

En laat die lieflikheid van die HERE onse God oor ons wees, en bevestig die werk van ons hande oor ons, ja, die werk van ons hande, bevestig dit!